Vivienne Gunning
05 Feb
05Feb

In die hartjie van Catania, Sisilië, is ‘n baie besondere historiese vismark, La Pescheria, dit dateer eeue terug, met sy oorsprong glo terug na die tyd toe Catania 'n bloeiende Griekse kolonie was, bekend as Katane. Die mark is so oud soos Catania self en het elke krisis oorleef – vanaf aardbewings tot Mount Etna wat "lek”. 

Tans is La Pescheria in die hart van die stad. Na die laaste groot aardbewing van 1693, wat Katania uit sy fondasies geskud het, het  die mark geskuiwe en nou net agter die bedrywige Piazza del Duomo en die Katedraal van St. Agatha. Jy kan dit nie mis nie. Die toeganklikheid van die mark maak dit almal se mark. Of jy vis, neute, groente, vrugte en speserye en kruie soek - dit is hier, so maklik. Die ryk vulkaniese grond, van Berg Etna, maak seker dat alles oordadig organies is. Alles groei in die ryk grond. Steek jou vinger daarin en ek is seker jy sal ook groei. 

Maar La Pescheria is nie net 'n plek van handel nie; dit is 'n kulturele instelling. Die argitektuur rondom die mark spreek ook van die historiese betekenis daarvan. Die barokstyl Fontana dell'Amenano, naby geleë, dra by tot die sjarme en bied 'n tydlose agtergrond vir die daaglikse tonele wat in La Pescheria afspeel.  Aktiwiteite begin so tussen 07h00 en 08h00 in die oggend en hier by 12h00 tot 13h00 begin die visverkopers oppak, Sien vanaf 14h00 rus almal hier. (Sondae en vakansie dae maak die vismark plek vir n antieke mark)

Dis ‘n lewendige mark, soos 'n opelug teater, waar visverkopers hulle waarde in 'n melodiese Siciliaanse kadens ("Vaniatte") uitskree, Vivu! Vivu! " Vars, vars! Dis so vars dat jy dit kan rou eet!" Seekat, rooi garnale, kreef, oesters, mossels, rooi tuna, salm, silweragtige ansjovis en tot selfs kolossale swaardvisse.  Elke vangs vertel 'n storie van die diepblou waters, waarin hierdie eiland wieg. Besprekings oor die varste vangs van die dag en die perfekte resep vir 'n Siciliaanse seekosfees eggo deur die mark. Elke mens weet dié beste resep. Ek kry die indruk dat jy hier net jy twee soorte vis koop -  Die goedkoopste of die varste. Te midde van die gewoel vang sjefs, dié seekos-trattorias, jou oog, wyl hulle besig is om te soek na net die beste bestanddele van die dag vir hulle restaurante se spesiale aanbiedinge. As hulle dan ook hier “shop”, moét die vis goed wees!  

Dwalend drentel ek deur die bedrywighede. Die lug is gevul met die onmiskenbare geur van die see, ‘n geur wat stories vertel – Die hoofrol word gespeel deur die besige, baie belangrike visverkopers, maar daar is nog ‘n storie agter hulle - Die vistermanne. Dis manne met groot growwe, sterk hande, wat kratte met visse wat nog beweeg, vir die visverkopers bring. Manne met gekreukelde gesigte en tande wat verlore is. Manne wat kan. Volgende keer gaan ek hawe toe, dalk saam op 'n boot. Hulle verdien ook dat hulle storie vertel word.

Comments
* The email will not be published on the website.